include_once("common_lab_header.php");
Excerpt for Salvokop by , available in its entirety at Smashwords





Salvokop

















Ina Cantoni







Outeur Ina Cantoni

Omslagontwerp: Ina Cantoni


Geset in Times New Roman 12pt


Alle regte voorbehou

Kopiereg ©Ina Cantoni


ISBN 978-1-928413-97-4

Eerste Uitgawe 2018



Hierdie boek mag nie sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat bandopname, mikrofilm of enige ander stelsel van inligtingsbewaring.


Gedruk deur

Malherbe Uitgewers










Hoofstuk 1





“Om op ‘n swart koolstoof kos te maak in so klein kombuis is genoeg om enige mens moedeloos te maak!” Janetta is nie ontevrede nie want sy is n baie gelukkige meisie. Dit sal net lekker wees om een van die nuwerwetse wit elektriese stowe te kan bekostig.

“Sjoe dis erg warm,” sê sy hardop vir haarself as sy die ketel met water eenkant toe skuif om plek te maak vir die platboompot. Sy verwag haar pa enige oomblik tuis. Vanaand is weer een van sy belangrike aande.

“Ek beter roer want hy want hy kan erg senuweeagtig raak as dinge skeef loop.” Glimlag sy so in haar alleen gesprek.

Sy kyk vlugtig deur die klein kombuisvenster op die werf in hulle agterplaas. Anders as die ander huise is hulle gedeelte netjies en versorg. Hier bly sy en Pappa van haar geboorte af, net sy en Pappa.

Sy vee ʼn lok van haar lang roesrooi hare agter haar oor in en met die selfde beweging die sweet van haar voorkop af.

“As Pappa weg is gaan ek ʼn lekker lang bad geniet.” Janetta is so gewoond dat sy hardop met haarself praat dat sy dit nie eers meer agterkom nie.

Sy is bevoorreg dat hulle huis ʼn piepklein badkamer het, nogal met warm en koue water. Pappa het belowe dat hy hierdie jaar die buitetoilet in die huis gaan inbou.

“Wag ek moet gou Pappa se spierwit hemp stryk. Ek moet seker maak dat hy onberispelik lyk, soos elke aand as hy chauffeur is.” Sy neem sy swart skoene wat sy skitter blink gepoets het en plaas dit voor sy bed. Sy swart pak klere hang teen sy kas.

“So-ja my Pa sal nie afsteek teen sy vriende met hulle hoogwaardige vrouens nie.”

Sy loer op die horlosie teen die kombuis muur en skuif die stomende pot bredie eenkant toe, terwyl sy die tafel vir hulle twee dek. Sy is gereed om op te skep toe hy die voordeur oopmaak.

“Wat ruik so hemels en kom dit regtig uit ons kombuis?” Vra Koos Scholtz as hy waarderend die lug in snuif. Vir haar is hy die trots van haar lewe. Hy beklee sy twee poste albei met eweveel erns.

Bedags is hy stasiemeester by die spoorwegstasie, maar dis sy tweede werk wat Janetta se hart laat swel van trots. Sy loer met ʼn wild kloppende hart na die groot pikswart Duitse motor wat nou voor hulle huisie staan. Giggelend dink sy, dit lyk regtig soos ʼn groot wit vark met ʼn bloedrooi strik met sy voorpoot in die modder!

“Dag Pappa. Hoe was Pa se dag?” vra sy, as sy hom liggies op sy wang soen. Koos hang sy baadjie aan die hakkie op en skuif sy stoel onder die tafel uit terwyl hy sê:

“Netta, as een dag ooit anders verloop as die vorige een, stuur ek die berig vir die koerant,” sê hy laggend. Hy buig sy hoof vra die seën en lê weg aan die heerlike bredie en stampmielies.

Janetta hou van haar Pa se troetelnaampie vir haar. Eintlik hou sy van alles om haar. Sy en haar Pa is gelukkig en dis vir haar genoeg. Haar ma is oorlede toe sy baie klein was en sedertdien is dit net sy en Pa-Koos. As dit vir haar Pa moeilik was om sy baba groot te maak, het hy dit nooit gewys nie.. Janetta se Pa en Ma is getroud toe hulle baie jonk was. Nadat haar Ma oorlede is het haar pa die versorging van sy rooikop baba op sy skouers geneem.

Vandat sy egter kan onthou is Dokter Antje Schmidt deel van hulle lewe. Sy die enigste dokter van Salvokop en sy het heel gewillig gehelp maar te bly om te help met die skattige baba, en later was sy vir Janetta soos ʼn Ma.

In haar tienerjare het sy agtergekom dat Dokter Antje Schmidt en haar Pa meer as net vriendskap vir mekaar voel. Dokter Antje het op Salvokop grootgeword en met beurse het sy ʼn dokter geword. Sy wou nie weer op Salvokop kom bly nie en het vir haar ʼn huis laat bou teen die voet van die berg waar sy al die jare alleen bly. Sy het egter ʼn kliniek begin om haar grootword mense te help.

Sy weet dat haar Pa minderwaardig voel teenoor die dokter. Hy is maar net ʼn stasiemeester, en Antje die geleerde dokter. Janette het soms gewens haar pa wil minder trots wees. Dit sal hemels wees om Tannie Antje vir ‘n ma te hê. Sy het al soveel kere voorheen probeer en skelm probeer sy weer.

“Pappa voor jy gaan, ek het gedink om Sondag vir Tannie Antje vir ete te nooi, hoe dink Pa?” vra sy vroom.

“Dis altyd reg met my Netta, jy en Antje is mos baie na aanmekaar.” Sy kry lus en skud hom!

“Waarvan dink Pappa sal sy hou?” vra sy onskuldig.

“Haai nee my kind, jy ken haar mos net so goed soos ek! Jy sal weet wat om te maak. Hoor nou maar eers of sy sal kan kom. Jy weet hoe onvoorspelbaar haar pasiente is.Ek sal sorg vir ʼn lekker bottel wyn. Ek weet die arme vrou is dood moeg as sy klaar is by die kliniek.”

“Nou goed my Pa, dan laat weet ek haar.” Kuiltjies verskyn in haar wange as sy skelm glimlag. Hoekom is hy dan tog so moeilik?

“As Pappa klaar geëet het sal ons moet roer. Pappa se klere is reg, gaan trek gou aan, dit word laat.”

“Dankie my kind, daar gaan juis uitgehang word vanaand. Ons klomp pikkewyne sal maar die duur motors oppas en wag om deure vir Mevrou die Eerste Minister oop te hou, ná die groot fees!” Koos geniet elke oomblik daarvan om chauffeur te speel vir vooraanstaande mense. Hy ken elke Kabinetsminister en kan staaltjies vertel wat mense sal verstom. Maar hy is professioneel en swyg oor die manewales van die hooggeplaastes.

Koos se yl grys hare en mooi blou oë pas verleen waardig-heid aan die deftige swart pak, as hy kiertsregop aanstap na die deftige motor. Janetta is baie trots op haar aantreklike Pa en stap saam met hom tot by die hekkie. Sy staar die motor agterna en laat haar oe oor die straat gaan waarin hulle bly.

Hierdie is Salvokop! Die agtergeblewe buurt, byna in die armholte van die stad. Tyd het hier stil gaan staan. Die meeste huise is skakelhuise, wat twee-twee aanmekaargeheg is soos Siamese tweelinge. Almal lyk presies eenders. Rooi sinkdakke, klein vensters en rooi stoepe. ʼn Muur wat vanuit die voortuin tot by die dak reik, skei twee eiendomme van mekaar. Die draadheinings wat voor om die huise loop is meestal slap en verweerd. Presies eenderse skewe hekkies, wat aan ewe skewe hekpale hang, gee toegang tot ewe verweerde paadjes wat na die voorstoepe lei. Posseël grootte grasperke omring met uitgegroeide roosbome, probeer die tuintjies verfraai. In die agterplase, ook rug aan rug, is die buite toilette of liewer die kleinhuisies. Langs die kleinhuisie le hope swart steenkool vir die koolstowe. Nie een verskil van die ander een nie.

In die grondpad loop henne met hulle kuikens in die pad, maar donker-word tyd weet elke hen waar haar blyplek is. Die skool is teen die bult gebou en kaalvoet kindertjies stap daagliks met die rooi grondpad skool toe, vry en sorgeloos. By Salvokop stap ontwikkeling met ʼn ompad verby.

Sy maak die hekkie toe en stap vinnig terug kombuis toe. Sy ruim vinnig op, sodat sy met haar skoolwerk kan begin.

“Nog net drie weke,” sing sy opgewek en draai op die punt van haar tone rond, “dan is die eksamen verby en is sy klaar met skool. Sy het altyd hard gewerk en sy is beloon met ʼn uitmuntende studiebeurs. Sy is reeds ingeskryf by die Akademie vir kuns en musiek en sy gaan uit die huis studeer, sy wil net hier by Pappa bly.

Tyd vlieg en die laaste dag van die eksamen is verby.

“Volgende week is dit die Minister van Landbou se onthaal, nè Netta? Dit is mos nog reg dat jy en Tannie Antje my by die onthaal ontmoet nè?”

Dis die eerste keer wat Janetta saamgaan en sy is kinderlik opgewonde. Koos is trots om albei die dames in sy lewe saam met hom te neem.

Pa en dogter was saam skottelgoed, ‘n takie wat hulle baie geniet. Janetta weet dat hierdie onthaal die een sosiale byeenkoms is wat al die motor bestuurders bywoon. Dit tel as hulle jaarlikse afskeid funksie.

“Jy gaan die mooiste vrou wees, al is dit aan jou Pa se arm!”

“Haai nee Paps wat van Tannie Antje?” sy koets as hy speels na haar raps met die vadoek se punt. Sy gooi haar arms om sy nek en tol saam met hom terwyl sy sê:

“Dankie vir my lieflike tabberd Pappa, ek is seker dit is nog mooier as my matriekafskeid rok.” Sy skud haar roesrooi krulle oor haar skouers en flirt verspot met haar Pa. Haar grasgroen oë skitter en ʼn glimlag wys diep kuiltjies in haar wange. Koos staar weer na hierdie beeldskone meisie. Sy lyk nes haar oorlede moeder en vir ʼn oomblik wens hy met sy hele hart dat Doreen haar kon sien.

Koos is reeds weg om die minister en sy gade te gaan oplaai. Janetta maak haar gewone verspotte passie voor die spieël. Al moet sy dit self sê, die smaraggroen rok maak haar oë nog groener en haar rooi krulle skitter in die lamplig. Sy gryp die motor sleutels as sy Tannie Antje so motortjie sien stilhou.

“Aitsa maar kyk hoe pragtig lyk sy?” sê Antje waarderend as Janetta na haar toe aanstap. Die ouer vrou is slank en grys hare is in ʼn sagte rol vasgemaak. Haar duifgrys lang rok laat haar statig lyk.

“Dankie Tannie en jy lyk mooi genoeg vir ‘n prins.” Sy sien die vinnige sluier oor Antjie se mooi ligblou oë. Vinnig herstel sy die fout en sê sy:

“Kom Tannie ons moet ry Pappa wag seker al baie ongeduldig. Vanaand neem ek vir die eerste keer my liefste Tannie self tot by die stadsaal. Dis nou net om te spog met my nuwe lisensie.”

Gou is hulle op pad na die imposante groot stadsaal in die stad. Honderde liggies verlig die torings bo-op die dak. Potte en potte helder gekleurde blomme verfraai die ingang na die saal. Hulle sit in die motor en wag dat Koos hulle kom haal. Hy fluit gemaak n wolwefluit en hoflik bied hy sy arms vir albei dames aan. Trots stap hy die trappies op en wag dat hulle plekke aangewys word.

Die vrouens wedywer met mekaar om as die besgeklede dame aangewys te word. Janetta giggel as hulle haar aan ʼn klomp poue laat dink, en trek vinnig ʼn streng gesig as sy haar Pa se groot oë sien.

Die gewone toesprake, heildronke, gelukwensinge en prysuitdelings en wat nog alles hou vir ewig aan. Janetta wou net weer wegraak in haar gedagtes toe die voorsitter die aankondiging maak wat haar laat regop sit. By die Kersete, wat ook in die banketsaal gehou gaan word gaan hierdie jaar ʼn redelik onbekende teenoor uit Italië kom optree. Sy spits haar ore en dan vang sy die naam Mario Minette! Dit kan nie waar wees nie? Hy is nie ʼn bekende naam nie maar hy is ʼn opkomende jong tenoor. Sy sug diep en droomverlore wens sy om hom te sien optree.

Gedurende die maaltyd vra sy vir Koos: “Pa, die Mario Minette, ken Pa hom?”

“Nee my kind nog nooit van hom gehoor nie, hoekom vra jy?”

“Ons het oor hom gepraat by die balletskool. Hy is blykbaar, alhoewel nog onbekend, baie in aanvraag by formele funksies. Hy het n paar dae gelede in die Kaap aangekom.”

Koos dink ʼn oomblik na en vra dan: “Jy lyk baie opgewonde my kind, dink jy hy is goed?”

“Pappa hy is absoluut briljant! Hoe wens ek ek kan hom sien! Ons kan nie dalk die Kerspartytjie bywoon nie?’ Hierdie dogter van hom draai hom netjies om haar klein pinkie. Hy moet tog maar ʼn paar toutjies probeer trek.

“Dis bietjie onmoontlik, maar kom ons kyk wat gebeur,”

“As ek net kan uitvind wanneer hy in Pretoria aankom. Hy sal seker van die Kaap af vlieg.”

“Ek sal jou sê as ek iets hoor. Wat weet jy van die man my kind?” spot hy haar ligweg en verbaas sien hy hoe sy bloedrooi bloos.

“Nee Pappa dis maar net, in kunskringe is dit belangrik om te weet hoe mense die kruin van sukses behaal. Miskien is ek ook in lyn om ʼn wêreldberoemde prima donna te word.”

Janetta geniet die vakansie en die sorgelose sonskyn dae sonder verpligting van skoolwerk en studies. Sonder die druk van eksamens skryf, skenk sy meer aandag aan hul huis en tuin. In die hele Salvokop is hulle huis die mooiste. Aan hulle kant van die skakelhuis hang die hekkie nie, staan die drade regop en is die huis netjies afgewit. Die dak skilfer nie en die tuin is vol blomme. Koos Scholtz is nie ʼn vermoënde man nie maar hy is pynlik netjies, op homself, sy huis, sy dogter en sy werk. Janetta is nie skaam om hulle adres vir enigiemand te gee nie, al is dit op Salvokop.

“Halo daar Janetta!” klink die vrolike groet al van ver af. Die jong meisie se hart klop bietjie vinniger. Simon Roderyk is ʼn vierde jaar mediese student wat ook hier grootgeword het. Hy is vier jaar ouer as Janetta, maar hy kom nog elke Desember vakansie by sy ouers kuier, alhoewel almal weet die halsbandjie is eintlik maar die pragtige Janetta.

“Halo Simon “ roep sy uitgelate en ontmoet hom by die hekkie, hulle soengroet soos die beste vriende wat hulle al van laerskool dae af is betaam.

Hulle sit buite op die stoep, elkeen met ʼn lang glas yskoue sap. Simon verkyk hom aan die pragtige meisie oorkant hom. Sy het in hierdie jaar in ʼn skoonheid ontluik, hy kan sy oë nie van haar af hou nie.

“Ons het darem die hele maand om op te vang waar ons laas gegroet het. Kan ons miskien vanaand met ʼn fliek begin?” vra hy later as hy aanstaltes maak om huis toe te gaan.

“Natuurlik dankie Simon, dit gaan pret wees soos altyd.”

Die aand is vrolik en ontspanne en Janetta dank haar gode vir die vriendskap van hierdie mooi jongman. Hy is briljant en hy gaan dit nog ver bring. Simon se doel is om uit te styg bo hulle grootword dorpie. Salvokop moet net ʼn herinnering bly, sê hy altyd.

Koos Scholtz kom die aand op sy gewone tyd by die huis, en terwyl hy in die gang afstap roep hy vrolik!

“Ek het nuus wat jy baie graag sal wil hoor!” roep hy na Janetta! “Jy wou mos weet wanneer die belangrike Italianer aankom? Ek hoor hy is in Bloemfontein en dat hy Vrydagoggend met die elfuur trein van Bloemfontein af kom. Dis al wat ek kon wys word.”

Janetta se hart bons en sy besluit summier om op die stasie te wees. Vrydagoggend vroeg maak sy klaar en stap met die voetganger brug oor die spore stasie toe. Die ou rooi baksteen gebou is vol roet en rook van jare se stoom treine wat hier aankom en vertrek. Sy weet waar die gewone Bloemfontein trein inkom en ʼn halfuur voor die trein se aankoms sit sy op ʼn harde hout bankie. Sy hou die treinspore dop tot waar dit om die draai verdwyn. Sal sy gelukkig wees om die man te sien vir wie sy so ʼn grenslose bewondering het?

Die stasie begin besig raak, en sy merk die groep vooraanstaandes wat saamdrom op platvorm ses. Dit is beslis die mense wat die belangrike Italiaanse sanger kom verwelkom. Sy bly in die agterhoede, maar so, dat sy nog alles kan sien.

Die swart monster kom die stasie ingestoom en blaas sy fluit oorverdowend. Haar hartklop versnel en sy staan op van haar bankie. Die deure swaai oop en passasiers bondel by die deure uit. Sy wag gespanne met haar oë op die deure wat een na die ander oopswaai!

Dan sien sy hom! Hy lyk presies soos op die foto’s wat sy van hom gesien het. Hy het pikswart hare wat op sy skouers hang en wat kompeteer met die ewe pikswart oë. Hy is nie so lank as wat sy gedink het nie, maar sy blas vel maak hom skokkend aantreklik. Hy word dadelik deur die groep opgeneem en sy vriendelike glimlag vertoon ʼn stel spierwit tande.

“Nee deksels” sê sy kliphard vir haarself. “Die man is onmoontlik aantreklik vir iemand wat nog so hemelse stem ook het!”

Sy kyk vir ʼn oomblik weg en dan kyk sy op, vas in sy donker broeiende blik. Sy besef nie dat haar koperrooi hare die son se skynsel vasvang en haar laat uitstaan soos ʼn roos in ʼn bak vol turksvye nie.

Bloed stol in haar are, en sy kry rillings langs haar ruggraat af. Vir ʼn oomblik duisel die aarde om haar maar dan tol sy op haar hakke om en haastig draf sy in die rigting van die hek.

Mario staar verward na die man wat sy hand na hom uithou om te groet. Sy aandag is beslis nie hier nie en skoon verbouereerd sluk hy aan die knop in sy keel. Dan besef hy waar hy is en gee sy nog steeds verdeelde aandag aan die man voor hom. Vir ʼn oomblik kyk hy op en sy oog vang die rooi hare wat vinnig by die hekkie uit verdwyn.

Met ʼn dowwe gevoel in sy hart sien hy haar uit sy gesigsveld verdwyn. Hy is egter nou so omring van bewonderaars en mense dat hy nie kan verskoning maak en agter haar aanhardloop nie. Skielik hou hy niks van hierdie stad nie. Hy volg die groep mense terwyl sy oë dwalend rondkyk en soek vir ʼn vlamrooi krullebol.

Janetta stap vinnig huis toe. Haar hart bons in haar kuiltjie en sy besef haar hande is nat gesweet. Sy wou net sien hoe die man in lewende lywe lyk! Sy het nooit besef dat hy hiérdie uitwerking op haar gaan hê nie? Sy sal haar moet regruk want sy gaan hom nooit in haar lewe ooit weer sien nie. Sy sal sy loopbaan in die pers volg. Per slot van sake is hy nie eens van haar bestaan bewus nie.

Twee aande later kom Koos met ʼn opgewonde drafstap by die voordeur in en oudergewoonte roep hy hard na Janetta:

“Netta! Kinta kom kyk gou hier! Ek dink ek is die belangrikste mens in jou lewe vanaand!” roep hy uitgelate!

“Ja my Pa? Natuurlik is my Pa nog tot op datum my belangrikste persoon? Wat maak dit vanaand anders?”

“Kinta kyk!” Hy waai ʼn koevert voor haar gesig en gemaak vermakerig, keer hy dat sy dit vat. Hulle stoei uitgelate en na ‘n rukkie oorhandig hy die koevert aan haar.

Opgewonde maak sy dit oop en dan snak sy na haar asem!

“Pa!” klink die vreugde kreet oor haar verbaasde lippe! “Pa is net die heel beste!” sy tols in die rondte en val dan uitgelate op die bank neer, druk die koevert asof in ʼn kus teen haar lippe. Haar groen oë skitter! Sy lees die woorde op die kaartjie noukeurig en spring dan weer met ʼn juigkreet op.

“Hoe het Pa dit reggekry? Kaartjies na Mario Minetti se konsert is onmoontlik om te bekom en dit nog....” hyg sy dit uit.

“Kalmeer Netta, ek het nie eens hiervoor betaal nie! Ek het dit as ʼn geskenk gekry!”

“Hoe op hierdie aarde doen Pa dit!”

“Sommer iemand wat my ʼn guns skuld.” lag hy ietwat ontwykend, “Saterdagaand neem ek my mooiste dogter uit om haar droom te verwesenlik. Ons sitplekke is in die tweede ry van vooraf, en jy sal hom mooi kan sien!” Koos verstom hom aan die opgewondenheid van sy dogter. Hy straal innerlik omdat dit so maklik is om haar gelukkig te maak. Voorwaar hy is ʼn baie gelukkige man.


Hoofstuk 2





Victor Nel draai die geel Ford se neus by Kerkstraat in. Die jong Italianer sit afgetrokke na die laan van pers Jakaranda bome weerskante van die straat en staar. Die prag van die Jakarandastad gaan by hom verby. In sy geestesoog sien hy die bos rooibruin krulle wat blink in die son? Wie op aarde is die pragtige meisie? Al wat hy weet is dat hy haar weer moet sien. Hy het nog nooit sulke lieflike rooi krulle gesien nie. Sy hart maak n bokspring by die gedagte aan haar.

Hy besef skielik dat hy baie afsydig teenoor sy nuwe vriende is. hulle gaan dink hy is ongeskik. Onmiddellik dwing hy homself om aandag te skenk aan sy gasheer en gasvrou. Hy het nou besluit, hy moet daardie meisie weer sien en dit laat hom baie beter voel.

“Baie dankie Victor dat julle my kom haal het, “Sê hy in sy gebroke Engels met die mooi Italiaanse aksent. “Ek sou nie eens weet waar om ʼn bus te haal nie.

“Dis vir ons ʼn groot plesier, Meneer Minetti, ons wil graag u verblyf so aangenaam moontlik maak.” Antwoord Victor formeel.

“Noem my Mario asseblief, ek sal baie gemakliker voel, reg?” en half onseker kyk hy van Victor na sy vrou Elsa.

“Dankie vir die voorreg Mario. My vrou se naam is Elsa,” kom die antwoord. Die gesprek vlot nou makliker en minder formeel. Die Italianer se gebroke Engels en dan nog die aksent maak dit moeilik om hom te verstaan, maar kort voor lank raak die twee Afrikaners dit gewoond.

“Hoe lank beplan jy om in Suid Afrika te bly, of is jy net hier vir die konsert toer?” vra Elsa nuuskierig.

‘Ek was eers van plan om net die toer klaar te maak Signora Elsa, maar ek dink tog om uit te vind waar ek ene doktor Toinett Collins kan kontak. Sy is oorspronklik van Londen, maar sy bly nou permanent in Suid Afrika, en ek verneem in Pretria.. Sy is ʼn baie befaamde sangeres, miskien kan ek by haar aanklop vir ʼn paar sang lesse. Dit wil sê as sy tyd vir my sal kan inruim.” Hy praat stadig en duidelik sodat hulle hom kan verstaan.

“Ek dink ek weet van haar Mario, moet ons vir jou probeer uit vind? Ek dink amper sy bly hier in Pretoria,” vervolg Elsa.

“Baie dankie Signora Elsa, dit sal ek baie waardeer. Dit sal sommer baie help” Se Mario en knipoog sameswerend vir haar. Hierdie man het sjarme wat vrouens van alle ouderdom laat vermurwe, dink sy en dit maak hom baie gevaarlik vir die Eva ’s geslag.

Die Nel egpaar laai hom by Victoria hotel af. Hy staar verstom na die pragtige gebou en dadelik neem hy foto’s. Victor help hom sy bagasie indra en nadat die formaliteite afgehandel is, groet hulle vertrek hulle. Hy is dankbaar vir hulle hulp maar nou is hy baie bly om alleen te wees. As hy sy oë toemaak sien ʼn bos vlamrooi krulle en grasgroen oë. Sy hart bokspring as hy aan haar dink maar hy sak moeg op die bed neer. Waar op aarde gaan hy haar weer kry!

Met sy arms onder sy kop gevou staar hy teen die plafon vas. Hy soek ʼn plan in die kurwe van die mooi staal plafon. As hy by Madame Toinette kan registreer as ʼn student mag sy verblyf permit verleng word. Terselfdertyd sal hy baat vind by die ekstra onderrig. Die vrou is ʼn genie en kan vir hom baie beteken in sy loopbaan vorentoe. Mario se gedagtes hardloop nou weg. Hy het alles wat enige jong man sal begeer. Met sy stem is hy op die vooraand van groot roem. Sy spieëlbeeld se vir hom hy is aantreklik, finansieel is hy sterk, al wat hy nie het nie is die rooikop skoonheid!

Mario se Oupa is ʼn skatryk boer met talle wynplase in die Noorde van Italië. Die klein Mario het by Nonno Minette groot geword, nadat sy Papa en Mama saam in ʼn motorongeluk gesterf het. Die driejarige knapie en sy Nonno was onafskeidbaar en hy is die ou patriarg se enigste erfgenaam. Toe Mario gaan studeer het na skool wou sy Nonno hê hy moet wynmakery studeer, maar Mario het hom oortuig dat hy wil sing. Natuurlik was die ou man baie trots op die jong man se ongelooflike mooi stem en het hy toegegee. Mario het so gereeld moontlik plaas toe gegaan, en so veel as moontlik van wingerdbou en wynmakery geleer. Sy Oupa is tevrede dat hy eers sal sing tot hy seker is wat hy met sy toekoms wil maak.

Mario sal Nonno Minette altyd dankbaar bly. Wat hy met die wynplase en wynmakery gaan maak is iets vir die toekoms, waarvan Oupa nog in volle beheer is. Vir nou wil hy net sing, toer en die rooikop soek! Die jongman raak van uitputting aan die slaap, en droom van ʼn laggende groen oog meisiekind wat hom bly ontwyk.

Uitgerus en vol energie word Mario wakker. Na ʼn vinnige warm stort en geurige Afrika ontbyt verlaat hy die hotel. Sy ontdekking van die hoofstad van Suid Afrika het pas begin. Hy verkyk hom aan die mooi geboue en die skoon winkels. Die donker pers Jakarandas langs die strate is ʼn poskaart mooi prentjie. Die land is mooier as wat aan hom vertel is. Hy wink ʼn huurmotor nader en vra om hom stadsaal toe te neem.

Mario trek sy asem in vervoering in. Hy staar verstom na die imposante gebou met sy torings, gewels en gegote vensterrame. Die tuine is aseemrowend mooi en met smaak uit gelê. Die deur staan uitnodigend oop en hy stap byna met eerbied nader om binne te sien. Skielik besef hy wat ʼn voorreg dit gaan wees om hier op te tree. Hy stap tot heel voor en trek sy borskas vol lug en toets die akoestiek met ʼn paar note. Tevrede stap hy weg, hierdie optrede gaan ʼn belewenis wees. Hy het regtig verwag dat hy in Suid Afrika ʼn sinkgebou gaan aantref! Hy grinnik kliphard, en wink weer ʼn huurmotor nader.

In die middestad klim hy uit en by ʼn klein straat kafeetjie koop hy ʼn koerant en gaan sit om die mense dop te hou. Hy verstom hom aan die vreemde mense, en veral die vreemde taal.

Hy blaai stadig deur die koerant tot by die klein advertensies, en dan sit hy penorent! Hy lees die piepklein beriggie weer en vryf oor sy lang hare, ʼn teken dat hy senuagtig is. Daar staan dit swart op wit:
Madam Toinette, available for extra lessons. Music, vocal and drama. Contact...” en dan die telefoon nommer.

Hy bondel die koerant onder sy arm in en drafstap oor die straat na die rooi telefoonhokkie op die hoek. Met bewende hande skakel hy die nommer en hou sy kleingeld gereed. Wanneer die vrou antwoord val hy soos ʼn skoolseun oor sy woorde. Maar wanneer hy sy naam noem sê sy:

“Gee my jou adres, ek stuur my chauffeur om jou te kom haal. Môre oggend elfuur? Victorian Hotel? Goed afgespreek!” hy wou nog iets sê toe is die verbinding verbreek. Uitgelate bokspring hy en voetgangers verwonder hulle aan die vrolike glimlaggende uitlander!

Sy planne begin vorm aanneem. Hy het nog sy koerant en hy beplan ʼn meer permanente blyplek. Miskien gemeubileerde kamer? Dit sal hy vanaand doen, nou drentel hy rond opsoek na ʼn motor. Huurmotors gaan nie altyd werk nie, en vir die groot trems met hulle ysters wat aan drade oor die pad hang sien hy ook nie kans nie.

Oor drie dae is sy eerste optrede in die Stadsaal, dus het hy genoeg tyd om sy reëlings te tref. Intussen? Sy waaksaamheid en soektog na die rooikop verslap nie vir een oomblik nie. hy soek na haar in die skare, in winkels, selfs in verbygaande motors. Sy moet iewers in Pretoria wees!

Madame Toinette is meer as bereid om hierdie begaafde jong man in te neem as leerling. Hy is briljant maar na ʼn paar toonlere wys sy hom uit waar sy tekortkominge is. Die aanvoeling tussen Mario en die meesteres in musiek is byna magies, Hulle werk ʼn rooster uit en intussen gee sy hom stemoefeninge om te doen.

Met ʼn breë glimlag klim hy in die wagtende motor. Niemand gaan nou kan stry oor sy rede om sy besoek aan hierdie pragtig land aan die Suide te wil uitrek nie. Hy gaan sy stem ontwikkel en die rooikop skoonheid soek!

Die motor koop is vlot en vinnig. Geld praat mos waar woorde nie kan bykom nie? Net een kyk na die donker Italianer se egte leer skoene en sy goeie pak klere en die rooi tapyt is oopgerol.

Spoedig is hy die eienaar van ʼn bloedrooi Merc, en is hy onafhanklik in hierdie vreemde land.. Die woonstel was maklik want die agent by die motorhandelaar ken sommer iemand wat hom kan help. Mario kan nie glo hy het maar ʼn paar dae tevore in hierdie land aangekom nie. Hy voel klaar na ʼn inwoner en die bloed bruis deur sy are as hy die rooi neus van sy voertuig by die garage uitbestuur.

Die eerste dag begin hy die woonbuurte stelselmatig deurkruis. Hy is verbaas om die ontwikkeling in hierdie jong land te sien. Die huise is mooi, smaakvol en die boustyle kunstig, en getuig van vooruitgang. By elke pragtige huis wat hy sien verwag hy haar verskyning. Sy moet tog iewers bly? As hy net haar naam ken!

Die dae gaan gou verby en Saterdagaand breek aan. Mario is vroeg by die Stadsaal en hy kry ʼn kamertjie waar hy sy drie verskillende uitrusting kan verwissel. Hy is effens senuagtig, want die Suid Afrikaanse gehore is vir hom vreemd. Hy hoop regtig hulle sal hom aanvaar!

Die saal is prentjie mooi en die beligting sag en romanties. Vanuit die dak hang ʼn skerp lig wat die kunstenaar in ʼn spierwit ligkol baai. Stadig maar seker word die stoele gevul en weldra is die saal stampvol.

Koos lei Janetta aan haar arm tot in die tweede ry. Sy is so opgewonde soos ʼn kind. Sy dra weer die lieflike grasgroen rok, en sy lyk beeldskoon. Koos is trots op hierdie mooi dogter van hom en hy onderskep menige bewonderend blikke van jong manne.

Die kollig gaan aan en die saal se ligte word gedemp en dan skuif die donkerblou gordyne oop. Mario kom van agter die verhoog uit en stap die ligkol binne. Sy spierwit pak klere met sy glinsterende koningsblou hemp kontrasteer sy pikswart hare tot die beeld van ʼn Griekse god. Die musiek begin speel en dan klink die man se ongelooflike tenoorstem deur die groot saal. Koos trek sy asem skerp in. Janetta het nie oordryf nie! Die man is manjifiek. Janetta se mond is kurkdroog, ademloos en in vervoering drink sy elke klank in. Na die eerste deel van die program kry hy ʼn staande applous, en moeg maar tevrede tree hy terug toe die gordyne toeskuif. Die ligte in die saal gaan aan en die gehoor drentel na buite vir die duur van die pouse.

“Pappa! Wat se jy nou? Is hy nie fantasties nie!” jubel sy dit uit. “Ek het Pa mos gesê!”

Koos lag vir haar gloeiende wange en erken: “jy is reg my kind, die man het ʼn meesterlike stem.”

“Ek wonder hoe lank gaan hy bly? Hy is seker wêreldwyd in aanvraag” sê sy nadenkend. Sy kan nie sy broeiende oë die dag op die stasie vergeet nie. ‘Ruk jou reg vroumens dalk was dit nie eers vir jou wat hy gekyk het nie!”

“Kom Netta ons moet ingaan die pouse is amper verstreke.” Dring haar pa se stem deur tot haar broeiende gedagtes,

Die tweede gedeelte is selfs beter as die eerste een. Hierdie keer het hy ʼn pikswart broek met ʼn bloedrooi baadjie aan saam met sy spierwit hemp en swart strikdas.

‘Pa,” fluister sy by sy oor. “die man is darem aantreklik verby nè?”

‘Ek stem!” sê hy fluisterend terug.

Die laaste aria breek aan en die orkes speel ʼn rukkie en gee hom geleentheid om te verklee. Hy verskyn in ʼn pikswart, broek hemp en baadjie. Net die silwer strikdas breek die swart uitrusting.

Hy staan vir ʼn paar oomblikke doodstil en dan klink sy stem eers sag, en dan harder tot dit deur die saal weergalm. Die gehoor is op hulle voete. Hy buig diep in erkenning en dan wanneer hy orent kom sien hy haar. Die vlammende rooi hare in die tweede ry. Sy hart ruk behoorlik in sy keel, en weer ontmoet hulle oë. Janetta se bene word lam, en vervaard gaan sy sit. Die gordyne gaan toe, en Mario mik vir die trappies langs die verhoog.

Hy wil gil van frustrasie as die orkes leier en die res van die orkes om hom drom vir handdrukke en gelukwensinge. Verstaan hulle dan nie hy moet hier uit nie?

Koos neem Janetta se arm en lei haar by die sydeur uit.

“Kom Netta as ons draai gaan ons nie vanaand by hierdie hek uitkom nie. Oomblikke later is hulle op pad Salvokop toe, die arm gedeelte van die groot stad. Vanaand voel Janetta soos aspoestertjie na die bal. Vir die eerste keer in haar lewe wonder sy hoe dit moet wees om in een van die groot huise met die baie ligte te bly.

Sy is egter gou weer opgewek en nog in vervoering oor die man se fantastiese stem.

‘Pa! Ek het vanaand ʼn besluit geneem! Binnekort, gaan ek dans! Ek gaan die gehoor op hul voete hê en die applous gaan vir my wees, die Prima Donna van Suid Afrika!”

“As dit is wat jy wil hê my meisiekind is dit wat jy gaan kry, jy werk hard daarvoor en ek sal die trotste Pa op aarde wees.”

By die saal hardloop Mario so vinnig as wat hy toegelaat word oor die verhoog, pluk sy baadjie uit, en spring die trappies twee-twee af na buite. Hy soek koorsagtig tussen die mense deur wat na die agterkant van die saal beweeg. Dit was sy! Dit was dieselfde rooi hare, die groen oë, hy het haar vir ʼn breukdeel van ʼn oomblik gesien maar dit was sy!

Hy soek oor die baie koppe, en draf na buite om te soek tussen die karre maar sy is weg. Niemand herken hom nie, want niemand verwag die wêreld beroemde tenoor in ʼn swart T-hemp soekende tussen die gaste deur nie.

Vir Mario het die applous vervaag en die helder ligte verdof! Hy klim in sy nuwe kar en teleurgesteld en hartseer ry hy na sy nuwe woonplek. Al wat hy na vanaand vir seker weet is, sy is nie ʼn droombeeld nie! Sy is nie ʼn skim van sy verbeelding nie, en verdomp sy is nog mooier as wat hy haar onthou!

Na ʼn slapelose nag van rondrol staan Mario douvoordag op, en begin Pretoria fynkam. In elke woonbuurt, ry hy straatop- en af, soek hy na die rooikop skim wat hom bly ontwyk. Na die tweede keer is hy nou seker dis nie sy oë wat hom parte speel nie, hy moet haar net kry! Hy soek oral, in banke, hospitaalpersoneel en winkels. Vroeg soggens sit hy voor skole in die stad, miskien is sy ʼn onderwyseres. Moedeloosheid neem van die jong man besit.

Gedurende sy sangles raas Toinette met hom! “Nee hemel tog Mario wat gaan met jou aan! Jou stembande is so styf soos ʼn snaar! Maak oop jou mond en ontspan. Ek kan niks met jou doen nie en dit na ʼn hele oggend se opwarming? Ons maak geen vordering nie!”

Mario skrik hom skoon boeglam as hy besef dit is sy eie skuld dat hy nie vorder nie. Hy slaap min in die nag en bedags speel hy speurder opsoek na die mooi meisiekind. Hy moet homself regruk of madame Toinette gaan hom uitskop!

“Jammer Madame, ek sal konsentreer ek was net bietjie moeg.” verdedig hy flou.

“Eerder uptight as jy my vra “ brom sy as sy voor die klavier gaan sit, en haar vinger onnodig hard op die eerste noot van die toonleer slaan!.

Vir ʼn halfuur hou sy hom so besig dat hy vergeet van sy soektog deur die strate van die Jakarandastad.

Hoofstuk 3





Die nuwe jaar breek aan en dis die laaste aand voordat Simon terugkeer Kaap toe. Hulle sit weer op die stoepmuurtjie by Janetta se huis.

“Dankie Janetta vir die mooi tydjie saam met jou. Hierdie was die laaste Desember vakansie wat ek jou as ʼn skooldogter groet. Volgende jaar sal jy ʼn volwaardige student wees en ek byna klaar met my graad. Jy weet dat ek jou graag die hof sal wil maak? Nog net een jaar nè?”

“Janetta kyk skaam na haar jarelange skool maat en sê, “Kom ons kyk wat hierdie jaar oplewer Simon? Dankie dat jy my waarsku hoor! Dit wil sê as die baie mooi studente meisies jou nie gaan opraap nie!”

Ingedagte kyk sy hom agterna as hy oor die rooi stofstraat stap na sy ouerhuis.

Dit is die eerste dag vir Janetta by die Akademie vir Musiek Kuns en Drama. Saam met ʼn groepie ander studente tree hulle aan, wagtend vir die begin van ʼn toekoms as dansers. Sy is baie opgewonde en kan nie wag om haar balletskoene aan te trek nie. Sy bestudeer die groepie afwagtende gesigte en heimlik wonder sy. Hoeveel van ons gaan die kruin van sukses bereik?

Na ʼn kort lesing en praktiese opleiding verdaag hulle om die eerste opwarming by te woon. Hulle tutor is ʼn gryskop dame met ʼn grys bolla laag in haar nek. Mevrou Cruywagen was ʼn briljante ballerina in haar jong dae, en Janette ag haar gelukkig om haar as onderwyseres te hê.

Die eerste week is ʼn warrelwind van klasse bywoon oefen en nog oefen. Janetta se rooster gee haar elke Woensdag ʼn vry dag. Sy is dankbaar want dit gee haar tyd vir haar verpligtinge by die huis.

Donderdagmiddag draf sy vinnig tussen klasse na die administratiewe afdeling om haar studente nommer te gaan haal. Dit help om ʼn student te wees want oral kry hulle korting op produkte en selfs openbare vervoer. Sy is haastig en kyk nie waar sy loop nie en sy skrik haar boeglam as sy trompop in ʼn man vasloop.

“Jammer Meneer...”stamel sy en staar dan verstom vas in die broeiende donker oë van Mario Minette! Haar woorde stol op haar lippe en verdwaas sien sy hoe sy mond klankloos oop en toe gaan. Hoe lank hulle na mekaar gestaar het kon hulle nie se nie, maar dan herwin Mario sy selfbeheersing en vinnig vang hy haar bo-arm:

“Senorita!” Kry hy dit verdwaas uit, en dan kom ʼn stortvloed van Italiaanse woorde oor sy lippe;

“Hoe op aarde is dit moontlik! Wat het ek gedoen om dit te verdien. Wat soek jy hier, kan dit moontlik wees?” Dit is sy! Hy slaan sy hand oor sy mond, en asof hy bang is hy droom steek hy sy hand na haar toe uit.

“Pardon, Senorita, vergewe my.” Slaan hy oor in Engels, “die gode is my goedgesind vandag!” gaan hy voort terwyl sy hom onbeskaamd aanstaar.

Janetta se hart slaan in haar keel en stotterend verduidelik sy in haar beste Engels:

“Ek is jammer meneer, ek was haastig, ek wou...”

Dan lag die jong tenoor skaterend sodat dit deur die gange weerklink.

“Asseblief! Moenie jammer wees nie! Senorita? Se my asseblief wat so ʼn beeldskone prinses hier maak? Asseblief se my net wat jou naam is, voor jy weer verdwyn?” babbel hy nog een stryk deur. Hy besef hy hou nog steeds haar arm vas en onwillig laat hy haar los.

Sy verstaan glad nie wat hy bedoel nie maar klokhelder antwoord sy “My naam is Janetta,” terwyl haar wange net so rooi soos haar hare is.

“Janetta,” herhaal hy saggies en rol die naam liefkosend op sy tong. Hy spreek die ‘j’ as ʼn ‘g’ uit. Nog nooit was haar naam vir haar so mooi nie!

Mario kry sy gedagtes vinnig agtermekaar voor sy dalk weer verdwyn en angstig vra hy:

“Senorita Janetta, ek moet jou weer sien. Kan ek jou adres kry asseblief, waar jy woon?”

Vir die eerste keer in haar jong lewe is sy skaam vir haar adres in Salvokop! Hoe kan sy vir hom sê waar sy bly? Dan herwin sy haar ingebore selfvertroue. Die kuiltjies wat in haar wange verskyn as sy skugter glimlag laat amper die uitlander se hart ophou klop!

“Hoekom sal ek my adres aan ʼn totale vreemdeling verskaf Meneer?” vra sy nou tergerig en in beheer van die situasie.

“Verskoon skone dame! Waar is my maniere! My naam is Mario Minette, die eer is myne” klink sy helder stem soos musiek in haar ore. Hy maak ʼn verspotte buiging as hy haar hand oplig en sy lippe veerlig oor haar palm vee. Hy sien die vertwyfeling in haar houding, maar natuurlik lees hy dit heeltemal verkeerd. Voor sy weer verdwyn kom dit oorhaastig van die senuagtige jong man.

“Hoe laat maak jou klasse klaar? Jy is ʼn student hier nè?” hy is nog steeds heeltemal oorweldig deur hierdie sameloop van omstandighede. Sy mag nie weer wegraak nie.

Die verdwasing is besig om Janetta te verlaat en weer klink haar helder lag op.

“Dis reg, ek is ʼn student hier in die akademie Meneer,”

“Per afvore senorita,” rammel hy in sy huistaal af, “Ek is jammer juffrou, ek is so voorbarig. Ek vra nie eens u toestemming nie!”

Sy giggel senuweeagtig en verbaas haar vir haarself as sy hom uitnooi, “Jy kan my na drieuur by die hoofingang ontmoet as u wil Meneer?”

Hy knik so entoesiasties sy kop dat sy hare oor sy skouers wip!

“Gracias, gracias Janetta ek sal by die hek vir jou wag! Baie dankie! En noem my asseblief Mario?” Mario kan homself knyp! Is dit moontlik, het dit regtig gebeur! Sy groet nou haastig en hy staar haar met verwondering agterna. Hy is laat vir sy afspraak met die hoof van die Akademie maar dit skeel hom nou min. Hy het haar gekry! Hy bokspring en dans die laaste deel van die gang af na die hoof se kantoor. Minstens is dit ʼn skool vir dansers, dink hy vrolik!

Janetta sweef bewerig met ʼn wild bonsende hart deur die gange terug studio toe. Die wonderwerk van wat pas gebeur het maak haar lighoofdig. Hierdie man kom in aanraking met meisies van oor die wêreld. Modelle, aktrises kunstenaars beeldskone dames, en hier maak hy ʼn afspraak met haar, die kaalvoet kind van Salvokop! Dis die een struikelblok wat sy nie weet hoe om by verby te kom nie. Hoe gaan sy vir hom wys waar sy grootgeword het en waar sy bly? Sy is nie skaam vir hulle eenvoudige huis nie, maar Salvokop! Die tweeling huisies met die slap drade en kermende tuin hekkies? Ergste is die buite toilette en hope swart steenkool. Snotneus kaalvoet kinders en hoenders en honde wat koersloos ronddrentel! Vir die eerste keer in haar lewe sien sy Salvokop deur die oog van ʼn vreemdeling. Deur Mario se oë!

Sy kry ʼn paar keer raas omdat haar gedagtes nie by die musiek of haar passies is nie. Sy vang die kwaai oog van Mevrou Cruywagen op haar en konsentreer ernstig om haar ritme te behou.

Uiteindelik is dit drieuur en soos blits glip sy by die kleedkamers in. Met bewende vingers trek sy die linte om haar enkels los, en vryf haar seer voete. Sy moet ʼn paar keer sukkel om haar romp en bloesie aan te kry voor sy slaag. Sy is so opgewonde haar vingers is skoon dom. Sy trek die borsel met ʼn paar hale deur haar weerbarstige bos rooi krulle en gooi haar rugsak oor haar skouer.

Met haar oë vasgenael op die motors in die straat sien sy hom dadelik langs die splinternuwe Merc. Haar hart mis ʼn slag en met bewende bene probeer sy so kalm moontlik oor die straat stap. Sy gaan seker nou nou wakker word uit hierdie onwerklike droom! Maar as hy die deur vir haar oophou en vlugtig sy arm om haar sit weet sy! Dit is nie ʼn droom nie sy is helder wakker en sy sit in Mario se motor!

Die taal verskil maak ʼn gesprek bietjie moeilik maar albei is tevrede om in mekaar se oë te staar.

“Janetta, Janetta, ek kan net jou naam oor en oor sê.” Prewel hy met sy broeiende oë op haar sagte mond. “Senorita, ek het so lank na jou gesoek.” Sy stem is emosie belaai en sy staar in ongeloof na hom.

“Hoekom was jy vanoggend by die Akademie? Vra sy nog steeds verbaas en nuuskierig.

“Ek is genooi om by julle saal te kom sing en ek het die tyd gaan finaliseer, ek was op pad... en toe loop jy in my vas!” sy helder lag weerklink in die klein ruimte van die motor. “Ek soek al na jou van die eerste dag by die stasie!” erken hy eerlik.

Janetta bloos bloedrooi en kyk weg van hom. Hy parkeer die motor by ʼn oop stuk grond en skuif sy rug teen die deur. Hy steek sy hand uit en vou alby haar hande daarin toe. Rillings rol teen haar rug af en die fyn haartjies op haar arms staan regop. Droom sy alweer?

“Senorita vertel my van jouself? Jy weet alles van my maar vir my is jy net die mooiste rooikop engel met die groenste oë wat ek ooit gesien het. Ek wil alles van jou weet, en as daar iemand in jou lewe is, raak ek van hom ontslae” terg hy selfversekerd.

Vlietend flits Simon se groot sterk blonde gestalte deur haar gedagtes maar sy druk dit doelbewus weg. Voor haar sit Mario, die donker Italianer met die stem wat die hemele ontsluit en hy kyk vir haar met sy hart in sy oë.

“Ek is ʼn enigste kind, my moeder is dood toe ek klein was, dus is dit net ek en my Pa. My Pa is stasiemeester by die spoorwee, en deeltyds chauffeur vir die Ministers. Ek studeer ballet, ek dans al van kleins af, en dis omtrent wie ek is.” vertel sy skaam.

“En in hierdie groot Pretoria, het die mooiste meisie in die wêreld ʼn huis? As ek net weet waar daardie huis is gaan ek myself nooi om die beste Pa te ontmoet. Sien ek het nooit my ouers geken nie ek het by my Nonno groot geword, na my ouers dood verongeluk het. My Nonno is ʼn wynbouer op ons landgoed in Italie. Ek is nou wat julle noem ʼn weeskind? ”vra hy versigtig.

Janetta bars uit van die lag. Hy probeer so hard om pateties te lyk, maar haar lagbui het die teenoorgestelde uitwerking op hom. Voor sy tot verhaal kan kom sit hy sy arm om haar skouers en buig haar kop agteroor. Vir die eerste keer in haar lewe soen ʼn man haar totdat sterretjies in haar kop ontplof. Sy is te verbaas om haar tee te sit en sy wil ook nie! Toe sy tot verhaal kom is haar arm om sy nek, en soen sy hom met dieselfde passie terug.

Na wat soos ʼn ewigheid voel lig hy sy kop en staar na haar beeldskone gesig met haar toe oë asof sy die oomblik wil langer rek.

“Ek is jammer Senorita. Vergewe my, maar ek wag al so lank vir jou.” Sy sien die emosie in sy donker oë en woordeloos trek sy sy kop weer na haar toe.

Hulle kan nie ophou om mekaar te soen nie. Hy krap haar rooi krulle deurmekaar en sy vroetel in die donker hare in sy nek. Janette kan nie glo hoe sag en teer hierdie vurige Italianer is nie, sy kan sy bewende opgewonde lyf voel, maar nie vir een oomblik verloor hy selfbeheersing nie. Sy voel veilig en beskut en wens sy kan vir ewig in hierdie ruimte van sy rooi Merc bly. Asof dit ʼn teken vir haar is besef sy sy sal moet huis toe gaan sit sy skielik regop. Pa is nou nou by die huis en hy sal rasend van bekommernis wees.


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-26 show above.)