Excerpt for Kronkelpad na geluk by , available in its entirety at Smashwords

KRONKELPAD NA GELUK


FRIEDA COETZEE



Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie e-boek mag op enige manier gereproduseer word nie. Hierdie e-boek mag nie herverkoop of weggegee word aan enige ander persoon sonder die toestemming van die publiseerder nie.

Alle karakters in hierdie e-boek is fiktief. Enige ooreenkoms met werklike mense, lewend of dood is bloot toevallig.


Kopiereg: Frieda Coetzee

2017


Ook gepubliseer deur Mar-Leo Publiseerders as Lisa se droom. ISBN 978-1-928401-51-3



HOOFSTUK 1


Isabel Carstens sit skielik regop in haar bed. Bewend gryp sy haar kussing en druk dit styf teen haar bors vas. Sy wonder of sy gillend wakker geword het of het sy haar verbeel? Sy knyp haar oë toe en luister of sy dalk enige iemand anders wakker gemaak het. Na ’n minuut besef sy dat daar geen geluide uit die res van die huis kom nie. Sy gooi die donskombers af en staan op terwyl sy die bedlamp aanskakel. Sy kan nie verstaan waarom sy wat al sewe-en-twintig jaar oud is veiliger voel met ’n lig wat aangeskakel is nie.

Haar tasse is gepak en staan netjies in die hoek van die kamer. Miskien as sy eers weg is, sal die nagmerries ook ophou. Maar dit is nie so maklik om weg te gaan soos sy gedink het nie. Sy tel die geraamde foto van die gastehuis se personeel op en kyk na elke gesig. Die foto is Kersfees geneem. Ses jaar is ’n lang tyd en niemand kan stry dat Andrea Lindsey haar meer soos ’n familielid behandel het as ’n werknemer. Sy het hard gewerk om daar te bly en Andrea het altyd vir haar werk gehad. Die karige salaris wat sy verdien het saam met die kamer en losies sou egter nooit genoeg gewees het om haar drome te bewaarheid nie.

Sy sug en sit die foto terug op die kas. Hoekom kan haar drome nie bewaarheid word nie? Was sy dan minderwaardiger as enigiemand anders? Haar pa se woorde sal sy nooit vergeet nie. “Jy is ’n nikswerd klein brat! As ek jou vir iemand anders kon weggee dan sou ek dit gedoen het. Jy is niks en sal ook nooit tot iets kom nie!” Sy knyp haar oë toe om die trane te keer. Dit was nie haar skuld dat haar pa ’n dronkaard was en skuldig was aan verskeie oortredings nie. Haar ma was ’n huilerige swakkeling, sonder enige ruggraat om terug te baklei. Maar sy wat Isabel is, is nie meer die hulpelose jongmeisie nie. Wie sal haar blameer omdat sy na ’n kans gegryp het om haar lewe te verbeter? Andrea sal wel oor haar verlies kom en haar lewe sal soos gewoonlik aangaan.

Sy maak die tweede laai van die kas oop en haal haar beursie uit. Sy maak dit oop en kyk na die nuwe Bestuurderslisensie en Identiteitsdokument. Sy het twee jaar gewag om enige suspisie te vermy en twee weke gelede het sy haar bedanking aan Andrea oorhandig. Sy het daarin geslaag om emosioneel aan Andrea te vertel dat haar ma ernstig siek is en haar nodig het.

’n Sterk wind wat buite waai laat die takke van die bome teen die dak en vensters krap en dit klink onheilspellend. By die venster wat oop is kom ’n koue wind in en Isabel begin bewe. Sy sit die beursie vinnig terug in die laai en maak die venster toe. Sy klim in die bed en trek die kombers oor haar, sy besluit om nie die lig af te skakel nie. Een van die dae sal sy haar eie besigheid hê en aan niemand verantwoordelik hoef te wees nie. Dit was mos altyd haar droom!

Isabel kyk op die horlosie en besef sy sal moet probeer slaap. Solank as wat sy in hierdie huis is, is daar ’n kans dat iets verkeerd kan gaan. Dit sal ’n groot verligting wees as sy nie meer bekommerd hoef te wees dat Andrea moontlik sal uitvind wat sy gedoen het nie. Die polisie kon nie uitvind dat sy betrokke was nie en die lewe het normaal aangegaan.

Oor ses ure sal sy die bus Kaap toe haal en nooit weer terug kyk nie. Niemand sal weet wat sy gedoen het of waarheen sy gegaan het nie.




HOOFSTUK 2


Lisa en Jean-Pierre Fourie woon in ’n woonstel op die boonste vloer van die gebou waar haar restaurant is. Sy is vanoggend laat en sy kom vinnig met die trappe afgestap. Voor sy nog by die deur ingaan prikkel die geurige walms van vars gebakte brood en koffie haar sintuie. Daar is reeds ’n paar van die gereelde kliënte wat wag vir ontbyt. Sy kan nie glo dat dit reeds tien jaar is vandat sy die plek begin het nie. Sy het dit sedertdien uitgebrei, die kleurskema verander en self nuwe teëls op die vloere aangebring. ’n Paar nuwe olieverf skilderye deur plaaslike kunstenaars versier die mure. Die Kaap-Hollandse meubels het sy by ’n tweedehandse winkel gekoop en is in ’n goeie toestand.

Twee van haar oudste kliënte sit by ’n tafel langs die venster waar hulle gewoonlik sit. Sy stap na hulle toe om te groet en die tafel te dek.

“Louisa sal nou vir julle koffie bring,” sê sy.

“Ai, jy kyk so mooi na ons,” sȇ Samuel Campbell. Sy bosagtige silwer wenkbroue lig op toe hy vir sy vriend, Petrus Olivier knik.

“Ja!” Bevestig Petrus. “Meer as wat ons dit verdien.”

Louisa Eksteen is een van Lisa se flinkste kelnerinne en sy is byna dadelik daar met die koffie. “Lukas het laat weet dat hy laat is en het reeds sy ontbyt bestel. Hy is op pad,” sê sy.

“Ek wonder hoekom hy laat is?” sȇ Petrus. “Hy is gewoonlik die eerste een hier.”

Lisa skud haar kop en vou haar arms oor haar bors. “Lukas behoort nie meer alleen te bly nie. Een van die dae sal iemand hom kry waar hy in sy slaap dood is.”

“Dit sal nie so ’n slegte manier wees om dood te gaan nie,” meen Petrus. “Daardie ou sal nog sy vyf-en-negentigste verjaardag haal al het hy amper nooit ’n dokter gesien nie.”

“Hy het steeds iemand nodig om na hom om te sien,” sȇ Lisa.

“Dit is hoekom hy ons het,” lag Petrus. “en hy is tevrede daarmee.”

“Sy gedagtes is nog helder, hy wen ons elke keer met ons kaart speletjies,” sȇ Samuel.

Louisa kom weer verby die tafel gewarrel en sê, “julle bestellings is volgende.”

Lisa draai om en net betyds om te sien Bennie kom by die deur in. Sy rooi keps is agterstevoor

op sy kop en hy het die dag se koerante in sy hande.

“Lekker dag, almal,” groet hy. “Ek is laat, my fiets het ’n pap band gehad. Dawid by die garage het dit vir my reggemaak. Hy het my twee rand gevra.”

“Dawid is ’n goeie vriend, nè Bennie?” sȇ-vra Lisa.

Bennie knik sy kop en skuif van sy een voet na die ander. “Dawid is my vriend. Ek het vir jou koerante gebring. Ek is jammer ek is laat.”

Lisa neem die koerante by hom en klop hom op sy skouer. “Jy is nie laat nie en jy kon dit nie help nie. Ek het geweet jy sou nog kom.”

Bennie is ’n sewejarige in ’n groot man se liggaam. “Bi, lekker dag, almal.” Hy waai met sy hand, draai om en loop by die deur uit.

“Dit was gaaf van Dawid om hom te help met sy fiets se wiel,” sȇ Samuel.

“Dawid sal enigiets vir Bennie doen,” sȇ Lisa terwyl sy na die eerste bladsy van die koerant kyk. “Ek dink ons almal sal hom graag wil help.”

’n Paar minute later kom Lukas by die deur in. Hy het ’n kort kakiebroek en ’n gekreukelde geel hemp aan. Sy sokkies is ook onpaar. Sy bos grys hare staan regop soos hy geslaap het en hy stap skuifelend na die tafel toe.

“Hier is jy uiteindelik,” sȇ Lisa. Lukas gee haar ’n soentjie op haar wang en gaan sit langs Petrus.

“Hoe gaan dit met almal op hierdie heerlike oggend?” groet hy.

“Kan nie beter nie,” sȇ Samuel terwyl hy ’n slukkie koffie drink.

“Dit gaan goed,” sȇ Petrus. “Maar hoekom is jy laat?”

“Ek het na die nuus geluister en weer aan die slaap geraak.”

Louisa kom uit die kombuis met hulle etes op ’n ronde skinkbord wat amper net so groot is soos wat sy wyd is. “Lekker eet menere,” sê sy toe sy die borde voor hulle neersit. “Is daar nog iets wat ek vir julle kan bring?” vra sy.

“Ek dink alles is reg, dankie,” sȇ Samuel.

“Kan ek asseblief van daardie sitrus marmelade kry?” vra Lukas

Petrus glimlag skaam en vra, “meer melk vir my koffie, asseblief?”

“Alles reg, ek bring nou,” sȇ Louisa en verdwyn kombuis toe.

Lisa hoor ’n kinderstem en is verras om te sien Hannah en Simon kom by die deur in.

“Tannie Lisa, raai wat?” Simon hardloop na haar toe met Teddie styf onder sy arm vasgeknyp. “Mamma het gesê ek kan pannekoek kry!”

Lisa gaan buk voor hom en kyk in sy groot ronde blou oë. Hy het kuiltjies in sy wange en sy gesiggie gloei van opgewondenheid.

“Wat wil jy saam met jou pannekoek hê?” vra Lisa. “Wat van aarbeie, piesang of appel?”

“Ek wil appel hê!” Simon kyk gou na Hannah en voeg by, “seblief.” Hy kyk na Lisa en fluister, “ek hou nie van die skille nie, net die appel soos in mamma se appelpastei.”

“Wel! Jy is gelukkig. Dit is presies wat ons het. Ek sal vir oom JP vra dat daar geen skille in is nie. Ons sê sommer JP vir Jean-Pierre, dit is korter en makliker.”

“Waar kan ons sit?” vra Hannah terwyl sy rondkyk. “Kan ons in daardie hoek sit?”

“Net waar julle wil. Ontbyt is met komplimente van my,” sȇ Lisa.

“Dit is nie nodig nie, Lisa. Ons sal betaal.”

“Dit is die minste wat ek kan doen om julle welkom te laat voel.” Lisa vryf oor Simon se blonde krulle. “Ons is so bly om die woonstel langs ons s’n aan julle te verhuur. Ons wil dit nie sommer aan enigiemand verhuur het nie. Ons weet julle sal dit oppas. Hoe vind julle die ingang agter die gebou, pas dit julle?”

“Dis perfek. Met Simon help dit dat die parkering daar naby is. Ons hou van die woonstel en dankie dat ons die balkon kan deel. Ons hou daarvan om saans daar te sit en na die toeriste op die sypaadjies te kyk en na die musiek wat uit die hotel kom te luister.”

“Hou julle van die orkesmusiek?”

“Ja, baie, Wouter se oupa kon goed trekklavier, banjo en kitaar gespeel het. Hy het vir Wouter se pa en ooms geleer om al die musiek instrumente te speel. Hulle het ook in orkeste gespeel. Die musiek by die hotel laat my dink aan dieselfde orkes waarin Wouter se pa gespeel het.”

“Jean-Pierre hou nie van daardie musiek nie. Daarvoor is hy te ernstig en romanties. Julle moet hom maar nie te hard oordeel as hy nie saamstem nie.”

“Elkeen het mos maar sy of haar eie musiek voorkeure,” sȇ Hannah terwyl sy haar hand uithou na Simon. “Kom ons gaan kry ’n tafel om by te sit sodat tannie Lisa kan aangaan met haar werk.”

“Ek wil daar sit!” hy beduie na ’n tafel teen die muur en hardloop daarheen.

“Simon wag . . .” Hannah sug en kyk verskonend na Lisa. “Hy het nog nie sy restaurant maniere geleer nie.”

“Hy het asseblief gesê sonder dat hy voorgesê is. Ek het gedink dit was nogal beleefd van hom. Ontspan nou en geniet julle ontbyt.”

Toe Lisa verby Lukas loop vat hy aan haar arm en vra, “wie is daardie oulike seuntjie?”

“Dit is Simon du Preez. Is hy nie te oulik nie?”

“Is die pragtige vrou sy ma?”

“Ja.” Lisa kyk na Hannah. Sy is slank, met lang donker hare en sprekende blou oë. ’n Gevoel van jaloesie wel in haar op maar sy onderdruk dit dadelik. “Haar naam is Hannah du Preez. Sy en haar man, Wouter, het die Du Preez landgoed geërf. Hulle huur op die oomblik die woonstel langs myne, terwyl die huis gerestoureer en in ’n gastehuis verander word.”

“Waar kom hulle vandaan?” vra Petrus.

“Hulle kom van Gauteng af. Wouter het werk gekry as ’n prokureur by ’n maatskappy in Stellenbosch.”

“Dit is gaaf. Ek hoop hulle sal gelukkig hier wees.”

“Ek ook en ek hoop almal hier sal hulle aanvaar en laat tuis voel,” sȇ Lisa.

“Hulle het my aanvaar,” sȇ Samuel. “Wat is die verskil?”

“Die verskil is” – Lukas vat ’n happie van sy brood met die marmelade – “dat jy nie van Gauteng afgekom het nie.”




HOOFSTUK 3


Hannah du Preez stap behoedsaam in by die leë ingangsportaal met sy krakerige houtvloere. Dit lyk of die oë van die bebaarde man in die skildery bokant die vuurherd haar volg. ’n Skielike geluid bokant haar laat haar hart vinniger klop. Sy kyk op na die plafon en die kandelaar.

“Wat was dit?” Vra sy vir Wouter, haar man. Hy vat aan haar arm en ’n glimlag trek die kante van sy mondhoeke op.

“Miskien was dit die spook van Josef du Preez,” sê hy terwyl hy na die skildery beduie. “Hy hang steeds hier rond.”

Ten spyte van haar vrees glimlag sy en sê, “miskien is dit net omdat die huis so oud is.”

“Is dit so?” Vra Wouter met opgetrekte wenkbroue. “Of het ons teruggegaan in die verlede deur ses generasies van Du Preezs – en in die Twilight Zone beland?”

“Moenie so sê nie! Dit klink grillerig.”

Hannah stap vêrder na die eetkamer en gaan staan voor een van die lang vensters. Sy kyk uit na die akkers vol wingerde wat wiegend in die somer windjie staan.

“Ek hou van die wingerde wat so wiegend in die wind staan.”

“Ja,” sȇ Wouter “dit is asof Moeder Natuur hulle so wieg.”

“Dit is wonderlik om te dink dat jou grootouers ook by hierdie vensters gestaan het en na dieselfde wingerde gekyk het. Ek wonder hoeveel grond Josef du Preez besit het toe hy hierdie huis gebou het?”

“Feitlik al die grond wat nou ook aan die kerk en skool behoort, was syne.” Wouter kom staan agter haar. “Die vyftien akkers wat ons geërf het, is oorgenoeg vir ons om te onderhou. Ons kan bly wees dat my grootouers van die grond verkoop het en die geld gebruik het om die huis te restoureer. Dit gaan nou net makliker wees om die plek in ’n gastehuis te verander.”

“Dit gaan steeds ’n baie groot taak wees,” antwoord Hannah.

“Ons kan saam aan die groot beplanning werk.” Wouter soen haar op haar wang. “Ek wil regtig aangaan met my regspraktyk, terwyl jy by die huis kan bly by Simon en ’n ogie hou oor die restourasie. Jy sal daarvan hou.”

Simon kom uit die kombuis na Hannah toe gehardloop. Sy blonde hare is deurmekaar en hang byna in sy oë. Hy hou sy verwaarloosde teddiebeer styf onder sy arm vas.

“Ek wil daar opgaan,” beduie hy na die statige wit trappe wat na die boonste vloer toe kronkel. Hy kyk vasbeslote na Hannah met sy saffierblou oë. Wouter vang hom en tel die vierjarige bondel energie in sy arms op nog voordat hy kan weghardloop. “Wag so bietjie ek wil saam met jou gaan.”

“Teddie en ek wil die lekkergoed man gaan sien. Hy is gaaf en gee vir ons suigstokkies.”

“Ek het gedink ons het ooreengekom om dié storie van hom stop te sit,” sȇ Hannah.

“Dit is wat ek nou wil doen,” fluister Wouter in haar oor. “Dink jy regtig ons sal ’n lekkergoed man daar bo kry?”

“Moenie sy verbeelding aanwakker as daar so baie spookstories rondgaan oor hierdie huis nie.”

“As ons toelaat dat Simon al die plekke in die huis ondersoek sal hy self sien dat die spookstories belaglik is. Hy gaan een van die dae hier bly en ons kan net sowel die miete nou uit die weg ruim.”

Hannah lig haar seun se ken op en kyk in sy oë. “Dit is belangrik om te onthou dat die man in die kas nie regtig daar was nie. Dit was net jou verbeelding.”

“Hy het dat ek aan sy baard vat,” sȇ Simon beslis.

“Nou goed, kom ons gaan kyk.” Wouter knipoog vir Hannah en hulle stap met die trappe op terwyl Simon giggel. Hannah byt op haar tande. Miskien is Wouter reg, maar sy hou nie daarvan nie.

Sy maak die venster oop sodat vars lug kan instroom in die kamer. Dit maak egter nie ’n groot verskil nie. Sy draai om en kyk na die groot eetkamer met ’n ovaal mahonie tafel en bypassende stoele wat die enigste meubels in die huis is. Die rooi en wit blom muurpapier is te besig en oorweldigend en is bo-aan die lys van goed wat moet verander. Sy wonder watter tipe patroon sal die kamer ligter laat lyk. Miskien moet sy vergeet van muurpapier en dit net laat verf! Sy het so baie om te leer oor hoe om die ryk geskiedenis te behou en dit steeds smaakvol en gemaklik te maak. Sy begin twyfel of sy die regte persoon is om met so ’n groot taak te begin. ’n Portret in ’n ovaal raam wat teen die muur hang is van Wouter se groot-grootouers, Karel en Augusta du Preez. Hulle was die laaste van die familie wat in die herehuis gewoon het. Hulle het al die ou buitegeboue afgebreek en die huis bietjie opgeknap voordat Karel oorlede is. Augusta is vyf jaar later ook oorlede. Hoewel die huis struktureel in ’n goeie toestand is, het dit vir jare leeggestaan wat die tol geëis het. Hulle sal moet meubels kry en daar is restourasie nodig voordat dit geskik sal wees vir ’n gastehuis. Dit moet ook kinder vriendelik gemaak word sonder om die historiese waarde van die Du Preez herehuis te vernietig.

’n Motordeur klap buite in die oprit toe en sy wonder wie weet hulle is daar. Sy gaan na die ingangsportaal en maak die deur oop. Jean-Pierre en Lisa Fourie kom aangestap na haar toe.

“Hallo daar,” roep Lisa uit. “Ek hoop nie jy gee om as ons so ongenooid hier aankom nie. Ons het besluit om jou offer aan te neem en te kom kyk na die huis. Ons wil dit graag sien voordat julle met die restourasie begin,” sȇ Lisa met ’n grinnik. “Sodat ons dit later kan waardeer.”

“Ek is bly julle is hier, kom binne.” Hannah hou die deur oop en vir ’n oomblik verbeel sy haar dat sy haar eerste gaste by die gastehuis verwelkom. “Moenie laat julle klere vuil word nie. Daar was vir jare nie ’n bediende hier nie,” sȇ sy laggend.

“Ek het nie besef die Du Preez herehuis is net ses kilometers van die dorp af nie. Ek het gedink dit is omtrent dubbel sover.”

“Dit is nie so groot soos dit van buite lyk nie,” sȇ Lisa toe sy in die kamer rondkyk.

“Miskien is dit omdat dit nog leeg is, behalwe die eetkamertafel en stoele en portrette was alles jare gelede verkoop. Groot ouma Augusta het spesifiek gevra dat die tafel en familie foto’s in die huis moet bly. Sy het natuurlik nooit gedink dat dit so lank leeg sal staan nie. Wouter se pa en ooms wou nie hierheen trek nie.”

“Waar is Wouter en Simon?” wil Jean-Pierre weet.

“Hulle is bo en soek die denkbeeldige man in die kas,” lag Hannah.

“O, die lekkergoed man,” sȇ Lisa.

“Ek dink as Simon eers die huis leer ken het, sal sy verbeelding tot ruste kom.”

“Hoeveel kamers het jy gesê is daar?” Vra Lisa.

“Vier bo en twee onder. Ons is van plan om ’n paar mure uit te slaan sodat ons ses gaste kamers bo kan hê.”

“Waar gaan julle bly?” Vra Jean-Pierre.

“Op hierdie vloer. Daar is baie plek agter die huis vir uitbreiding sodat ons ’n derde slaapkamer kan aanbou. Dit sal dan ons privaat woon area wees.”

“So al die gaste kamers sal bo wees?”

Hannah knik haar kop. “Ja, maar ons grootste probleem gaan wees om vir elke kamer ’n eie badkamer te gee. Partykeer moet gaste ’n badkamer by ander gastehuise deel, ons verkies dat al die kamers hulle eie badkamers moet hê.”

“Het julle al kontrakteurs gekry en wanneer gaan julle begin met die werk?” vra Jean-Pierre.

“Ja, die planne word reeds opgetrek en ons hoop dat dit volgende week gereed sal wees.”

“Hoe lank is julle van plan om die woonstel by ons te huur?”

“O, ek dink nie ons sal hier intrek in die volgende agtien maande nie, miskien nader aan twee jaar. Al is ons deel van die huis klaar wil ek nie hier intrek voordat alles nie klaar is nie. Ek sien nie kans vir al die gemors en die werkers wat hier rond beweeg nie.”

“Dit is nie dat ek julle wil verloor as huurders nie, maar ek kan nie wag om die plek te sien as dit klaar is nie,” Lisa glimlag.

Hannah kan nie help om te sien hoe mooi sy is nie. Haar blou-grys oë is groot en haar gesig is omraam met haar skouerlengte blonde hare. Sy is verlig toe sy hoor Wouter en Simon kom met die trappe af.

“Ek het gedink ek hoor stemme, hallo Lisa, JP.” Wouter stap na Lisa en gee haar ’n drukkie en hy skud Jean-Pierre se hand.

“Ons het net gekom om te kom kyk hoe dit hier lyk, miskien kan Simon ons vir ’n toer deur die huis neem,” sȇ Jean-Pierre.

“Ja!” roep Simon uit en gooi sy teddiebeer in die lug en vang hom weer.

“Lyk my hy het gewen,” lag Wouter. “Hy ken al die plek net so goed soos ons.”

“Wat van die lekkergoed man in die kas?” vra Lisa.

“Daar is geen teken van hom nie, lyk my hy het uitgetrek,” sȇ Wouter met ’n oogknip.

“Is jy al oud genoeg om ons die huis te wys, Simon?”

“Ek het verjaar, ek is al vier,” sȇ hy en hou vier vingertjies in die lug.

“Ek dink dis oud genoeg. Waar gaan ons begin?” vra Lisa .

“Hier is ’n groot vuurmaakplek, so groot dat Kersvader daar kan inkom. Ek sal julle gaan wys.”

“Goed kom ons gaan.” Lisa vat Jean-Pierre se hand en volg Simon na die agterste deel van die huis.

Hannah se oë ontmoet Wouter s’n en sy wonder of hy net so lief is vir Simon soos sy.

“Hierdie plek gaan ’n wonderlike bed en ontbyt gastehuis wees,” sê hy. Ek kan ons al hier sien woon. Dit is die ideale plek vir Simon om in groot te word. Hy sal die gaste om sy pinkie draai en ook baie by hulle leer. Ek kan nie wag om te sien wat alles gaan gebeur nie.”

“Ek kan ook nie wag nie. Hoe meer ek daaroor dink hoe meer is ek oortuig dat al die gaste kamers badkamers moet hê.”

“Ek stem saam.” Wouter kyk oor Hannah se skouer na iets op die vloer wat sy aandag trek. “Wat is dit wat daar onder die tafel lê?” vra hy en loop na die tafel, hy buk af en tel iets op.

“Jy sal nie glo wat dit is nie!”

“Wys my.”

Wouter hou ’n suigstokkie uit na haar toe. “Dis ’n lekker soos Simon gesê het.”

“Ek dink jy het dit daar gesit,” sȇ Hannah.

“Wat! Hoekom sal ek dit doen?”

“As ’n grap! Om my te laat dink dat Simon wel die man in die kas gesien het. Ek dink nie dis snaaks nie.”

“Wel, ek ook nie en ek is nie een wat sulke grappe sal maak nie. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie,” sȇ Wouter gefrustreerd.

“Ek is seker Simon sou dit nie daar gesit het nie.”

“Liefie . . .” Wouter vat haar hand. “Ek belowe jou dis nie ek nie.”

“Ons het al die slotte verander en niemand anders het sleutels nie.”

“Wel,” Wouter kyk op na die trappe. “As Simon ’n man daar bo gesien het dan het hy sonder sleutels ingekom.”

“Maar hoe? Die deure en vensters was gesluit.”

“Ek weet nie,” Wouter trek sy skouers op. “Dit is nie die spook van Josef du Preez nie, ek twyfel of hulle in sy dae sulke suigstokkies gehad het,” sê hy met ’n grinnik.

“Moenie grappies maak nie, Wouter. Dit is grillerig. Hoe gaan ons ooit hier veilig wees as iemand net kan in- en uitloop sonder ’n sleutel?”

“Kalmeer liefie. Daar moet ’n verduideliking wees.”

“Dit maak my bang as ek dink Simon was regtig naby so ’n . . . oortreder.” Sy kyk na die portret teen die muur en ’n rilling gaan deur haar.

“Laat ons dit stilhou en nie vir Lisa en Jean-Pierre daarvan vertel nie. Ons wil nie verdere spookstories oor die huis hê nie.”

“Ek stem saam. Ons moet egter met Simon praat en sy stories oor hierdie man ernstiger opneem. Ons moet dit ook eintlik aan die polisie rapporteer.”




HOOFSTUK 4


Laat Maandagmiddag wag Wouter, Hannah en Simon in die eetkamer van die Du Preez herehuis terwyl die polisie se ondersoekbeamptes besig is om die huis te deursoek. Hannah staar by die venster uit na ’n valk wat bo in die lug sweef. Op die horison kan sy wolke sien saampak en sy wonder of dit koue of reën is wat aankom.

“Ek wonder hoekom hulle so lank neem.” Hannah draai om na Wouter toe wat by die tafel sit.

“Hulle doen dit ten minste deeglik,” sȇ hy. “Ons sal iets gaan kry om te eet. Moenie bekommerd wees oor aandete nie.”

Simon sit op die vloer en speel met sy blokkies. “Ek wil ’n groot hot dog hê,” sê hy.

Wouter glimlag. “Ons trek kaap toe waar ons die heerlikste vis kan kry om te eet en ons seun wil ’n hot dog hê.”

Voetstappe klink op van die trappe af en luitenant Greeff kom saam met sersant Maimane by die eetkamer ingestap.

“Ons is klaar,” sȇ luitenant Greeff. “Kan ons hier sit en gesels.”

“Ja, seker, vertel ons wat het julle uitgevind,” sȇ Wouter.

“Dit is juis die ding” – Greeff kyk na Maimane – “Ons het niks gekry wat daarop dui dat hier ingebreek is nie. Die deure en vensters sluit behoorlik.”

Wouter skud sy kop. “Dit behoort so te wees. Ons het al die slotte laat verander, so hoe kan iemand hier inkom sonder ’n sleutel?”

“Hier is ’n hele klompie hawelose mense in die omgewing.” Greeff pers sy lippe opmekaar. “Dit is bekend dat die plek vir ’n hele paar jaar onbewoon was. Iemand kon gesien het dat julle hier inkom en het dalk ingeglip terwyl julle elders in die huis was. Die persoon het miskien agtergebly nadat julle weg is.”

“Aan die ander kant, sou daar tekens gewees het dat hier ’n plakker was, miskien ’n kombers, papiere of ander gemors. Maar behalwe die voetspore in die stof op die houtvloere is dit onmoontlik om te sê of daar enigiemand anders in die huis was,” sȇ Maimane.

“Baie van die voetspore is ons s’n en ook die van die kontrakteurs,” sȇ Hannah.

“As julle nie omgee nie sal ons graag met julle seun wil praat,” sȇ Greeff.

Wouter roep Simon om op sy skoot te kom sit. “Simon dit is luitenant Greeff en sersant Maimane. Hulle wil graag ’n paar vrae vir jou vra oor die man wat jy gesien het. Ek wil hê jy moet net die waarheid vir hulle vertel.”

Simon knik sy kop en hou styf aan sy teddiebeer vas. Hy hou sy een hand op en steek sy duim weg onder die ander vingers. “Ek is vier jaar.”

“My seuntjie is ook vier en hy is regtig slim. Ek is seker jy is ook. Kan jy vir my vertel van die man wat jy gesien het?”

“Hy was gaaf, hy het vir my suigstokkies gegee. Sy gesig het baard gehad.”

“Was dit ’n lang baard?”

“Nee, dit was wit en stekerig soos dorings op sy ken.”

“Ek sien. Watter kleur was sy vel?”

“Bruin.” Simon glimlag. “Hy het gesê hy is van sjokolade gemaak, maar hy het net ’n grap gemaak. Hy het soos dokter Ben gelyk.”

“Dokter Ben was Simon se kinderarts voordat ons hierheen getrek het,” sȇ Hannah. “Hy was ’n kleurling,” voeg sy by.

“Goed, dit help baie. Simon, wat was die kleur van sy hare?”

“Swart, dit was krullerig soos my ouma se poedel hondjie s’n.”

“Was die man maer soos sersant Maimane? Of was hy rond soos ek? Of was hy net middelmatig soos jou pappa?”

Simon trek sy skouers op. “Hy was nie vet nie.”

“Was hy jonk soos jou pappa of ouer soos ek, of het hy soos ’n oupa gelyk?”

Simon hou sy kop skuins en kyk vraend na luitenant Greeff.

“Luitenant,” sȇ Hannah. “Simon se oupas lyk nog jonk en ek dink nie hy kan oud of jonk tussen sy oupas onderskei nie.”

“Laat ons dit dan los. Ons weet die man het wit stoppelbaard op sy ken. Simon, kan jy enigiets anders onthou wat die man vir jou gesê het.”

“H’m, h’m; hy het gesê,” – Simon sit sy wysvinger op sy lippe – “sjuut. Ek is die lekkergoed man. Toe het hy my gewys sy sakke is leeg . . . en skielik toe kom daar suigstokkies uit. Dit was snaaks.”

“Hoe het sy stem geklink?”

“Hy het die hele tyd saggies gepraat.”

“Wat het hy nog gesê?”

“Hy het gesê as ek vir niemand vertel dat ek hom gesien het nie dan sal hy volgende keer meer lekkers vir my gee. Ek het vir mamma en pappa vertel want ek mag nie met vreemde mense praat nie.”

“Kan jy onthou hoe sy klere gelyk het?”

“H’m . . . sy hemp was blou. Dit het ’n sak waarin hy die lekkers gehad het.”

“Kan jy enigiets anders van hom onthou?”

“Hy was nie ’n kammakastige lekkergoed man nie.”

“Kan jy vir ons vertel wat is die verskil tussen kammakastig en werklik, Simon?”

Simon huiwer ’n oomblik en sit dan sy teddiebeer op die tafel. “Teddie is ’n kastige beertjie. Hy kan nie grom soos ’n regte beer nie. As hy ’n regte beertjie was, sou hy kon grom.”

“Ek dink jy weet presies wat die verskil tussen kastig en regtig is.” Greeff skryf iets in sy notaboek en sê, “ek dink ons is nou klaar. Simon jy was baie behulpsaam. Jou mamma en pappa is reg as hulle sê jy moenie met vreemdelinge praat nie – of lekkers of enigiets anders by hulle vat nie. As jy weer die man sien moenie eers met hom praat nie. Hardloop dadelik na jou ouers en vertel vir hulle.”

“Ons moes eintlik Simon se storie meer ernstig opgeneem het,” sȇ Wouter. “Ons het net gedink die verhuising hierheen het veroorsaak dat hy in ’n fantasie wêreld beland het. Ons koop nooit suigstokkies nie en daar is geen verduideliking vir die een wat ons op die vloer gekry het nie. Dit was nadat Simon ons van die man vertel het. Ek neem aan hy het hier ingesluip terwyl ons in ’n ander deel van die huis was. Dit sou nie moeilik vir hom gewees het om dit te doen nie.”

“Daar is natuurlik ander moontlikhede waaroor ons nie gepraat het nie. Greeff vou sy arms op die tafel en sy oë beweeg van Hannah na Wouter en weer terug na Hannah. Ek veronderstel julle weet van die abnormale aktiwiteite hier by die Du Preez landgoed in die loop van die jare?”

“Ja! Wie weet dit nie?” sȇ Hannah. “Maar aangesien daar nie so iets is soos spoke nie is al die stories versinsels. Selfs Simon weet dit.”

Simon knik sy kop. “Spoke is net stories. Ons het almal oral in die hele huis gesoek en ons kon nie een spook kry nie.”

“Jy is heeltemal reg, maar party mense glo dit is regtig so.” Maimane kyk rond en vervolg, “ek het ’n TV-program gesien wat gaan oor spook huise wat glo ’n groot besigheid is. Hulle meen dit is ’n waarborg vir goeie besigheid as gaste ’n spook teëkom, die plek is dan gereeld vol bespreek.”

Hannah tik met haar vingers op die tafel om haar verontwaardiging ter wille van Simon te verberg. “Luitenant Greeff, dink jy miskien ons maak die storie op sodat mense belang kan stel en ons besigheid ’n hupstoot kan kry?”

Greeff sit terug in sy stoel en vou sy arms oor sy bors. “’n Onskuldige spookstorie sal sekerlik nie die toekomstige besigheid skade doen nie.”

“Dit is verregaande, sê Wouter. “As ons ’n spookstorie wou opmaak sou ons met iets meer oortuigend gekom het as ’n ongeskeerde kleurling wat ’n kind van vier jaar vertel hy is van sjokolade gemaak en vir hom suigstokkies gee. Gee ons ’n bietjie meer krediet, sersant. Daar is baie stories oor Josef du Preez wat hier rondloop. Dit sou baie meer sin gemaak het as ons nuuskieriges wou lok.”

Maimane sit sy pen neer en sê, “meneer en mevrou Du Preez het ’n goeie punt daar.”

“Wat ons eintlik het, is ’n onwelkome indringer en geen verduideliking oor hoe of waar hy ingekom het nie. Ons vierjarige seun mag verstaan wat regtig en kamma is maar hy is nie so bewus van wie gevaarlik is of wie nie. Ons wil seker maak daardie man kan nie weer hier inkom nie. Wat stel julle voor moet ons doen?”

“Julle kan daaraan dink om sekuriteit ligte te installeer,” sȇ Greeff. “Die soort wat bewegings ook kan optel. ’n Alarmstelsel sal miskien ook beter wees.”

Wouter sug. “Ons gaan geld verkwis as ons al die sekuriteit maatreëls tref terwyl die konstruksie werkers hier gaan wees.”

“Hoe gou gaan julle begin met die werk?”

“Ons wag nog vir die planne wat moet goedgekeur word, miskien eers in die volgende weke,” sȇ Hannah.

Luitenant Greeff sit sy brille in sy sak en staan op. “Aangesien hierdie ’n huis is wat van historiese belang is, dink ek nie dit sal ’n probleem wees om kaptein Shelby te oorreed om ’n tydelike patrollie te stuur om ’n paar keer per dag of nag te kom kyk of alles reg is. As die restourasies begin sal die baie bewegings en trokke wat kom en gaan ’n goeie afskrikmiddel wees.”


ϓϓϓϓϓ


Die aandlug is warm en bedompig toe Lisa met die trappe opstap na hulle woonstel. Jean-Pierre het reeds vroeër geloop om ’n bietjie te gaan slaap na ’n dag se harde werk in die restaurant se kombuis. Lisa stap deur die sitkamer en maak die balkon se deure oop. Die son se strale kleur die wolke in die weste helder oranje en pers. Sy staan teen die reëling van die balkon en kyk uit oor die straat waar toeriste stadig slenter tussen die winkels en eetplekke. Sy glimlag. Haar besigheid by Café Lisa was nog nooit so goed soos nou nie. Sy sien die pos wat op die tafel in die sitkamer lê en tel dit op. Daar is die gewone telefoonrekening, water en elektrisiteit en ’n advertensie van ’n klerewinkel. ’n Koevert waarop haar naam getik is en waarskynlik nie saam met die pos gekom het nie, trek haar aandag. Sy wonder wie van haar diensverskaffers probeer posgeld spaar?

Sy gaan sit op ’n stoel en maak die koevert oop. ’n Wit papier met letters wat uit ’n tydskrif gesny is spel die woorde: EK WEET WAT JY GEDOEN HET. Sy staar na die woorde en haar hart klop in haar keel. Maak iemand ’n grap? Hoe kan enigiemand weet wat sy gedoen het? Hoekom nou na tien jaar?

“Ek het gedink ek het jou gehoor inkom,” sȇ Jean-Pierre wat in die deur verskyn.

Sy skrik en haal vinnig asem en kyk na hom. “Jy het my laat skrik skattie, ek het gedink jy slaap.”

“Ek kon nie slaap nie. Ek is honger. Dempsey is vanaand in die kombuis en ek het gedink ons kan bietjie uitgaan en êrens anders iets kry om te eet. Moenie vir iemand vertel nie, maar jou nommer een sjef is lus vir ’n groot kaasburger en skyfies.”

“Nou goed, laat ek net gou iets koeler aantrek.” Lisa sit die brief vinnig in die koevert terug en glip dit onder die ander pos in.

“Enigiets interessant in die pos?”

“Net rekeninge. Ek sal dit by die ander sit en alles volgende week betaal.”

“Ek weet nie hoekom jy dit nie aanlyn betaal nie. Dit sal baie makliker vir jou wees.”

“Moet ons elke maand hieroor praat? Ek verkies dit om met tjeks te betaal!” sȇ Lisa geïrriteerd.

“Ek probeer jou net help om tyd te bespaar,” Jean-Pierre se dik, donker wenkbroue trek fronsend saam. “Wil jy liewers hier bly en nie uitgaan nie? Ek kan vir ons iets maak om te eet.”

“Eintlik wil ek uitgaan.” Sy kyk bedeesd na hom. “Ek het nie gemeen om jou kop af te byt nie. Ek het net ’n uitval met een van die kelners gehad oor haar kleredrag. Ek kan nie verstaan hoekom hulle nie kan besef dat hulle nie sulke gewaagde lae hals klere werk toe kan dra nie. Ek is moeg om gedurig daaroor te praat.” Sy sug. “In elk geval ek het nie bedoel om dit op jou uit te haal nie. Ek gaan trek gou aan dan kan ons gaan.”

Lisa gaan sit op die bed en sy kry ’n nare gevoel op haar maag. Sy wonder wat die brief eintlik beteken? Maak dit nou regtig saak? Bestaan die verjaringsreg dan nie? Die gereg kan nou mos niks meer aan haar doen nie. Wat hoop die briefskrywer om uit haar te kry – geld? Is sy gewillig om iemand te betaal om stil te bly en kan sy dit bekostig? Wat gaan sy doen as Jean-Pierre die waarheid uitvind? Die gedagte dat sy die liefde en respek van haar man kan verloor maak haar vreesbevange. Wat as sy haar besigheid en haar reputasie verloor? As sy instem om te betaal sal dit die einde daarvan wees? Wat as sy vir die res van haar lewe moet betaal? Dit is nie wat moes gebeur het nie! Sy maak haar oë toe om die vrees in haar uit te sluit. Sy is so lief vir hierdie gemeenskap en die pragtige eikebome en wingerde. Sy het nooit voorheen gevoel of sy êrens behoort of om deel te wees van iets groter as syself nie. By hierdie gemeenskap het sy gevoel soos iemand wat saak maak en wat respek by die publiek gekry het. Sy het perfek hier ingepas – al was dit nie haar regte naam nie.

Skielik word sy weer bewus van haar omgewing en die musiek wat op die aandwind aangesweef kom. Hoe lank het sy so gesit? Sy staan op en kry ’n ligblou rokkie uit haar kas en trek dit vinnig aan. Terwyl sy op die bed sit om haar sandale aan te trek verskyn Jean-Pierre in die deur. “Is jy gereed om te gaan?”

Lisa knik haar kop. Haar hart klop met hamerslae en sweet slaan uit op haar voorkop.

“Is jy seker jy wil uitgaan?” Jean-Pierre gaan sit langs haar en sit sy arm om haar. “Jou gesig is rooi en jy sweet, is dit steeds die rusie met die kelner wat jou ontstel?”

“Wel, dit was die laaste keer. Môre gaan ek vir hulle uniforms kry.” Sy lê met haar kop teen sy skouer en is bly dat sy nie in sy oë hoef te kyk nie. “Ek moes dit al lankal gedoen het.”

“Sien jy nou Lisa Fourie, die probleem is opgelos. Dit was maklik nè?” Jean-Pierre staan op en trek haar saam met hom op. Die uitdrukking op sy gesig is rustig toe hy verder sȇ, “as dit die ergste uitdaging is wat ons het, liefie, dan dink ek die lewe is goed vir ons.”En wat as dit nie is nie? wat as die lewe soos ons dit nou ken eindig? Dink sy benoud.


HOOFSTUK 5


Ek hou van hierdie plek,” sȇ Hannah terwyl sy, Wouter en Simon aandete geniet by Café Lisa.

“Dit is jammer Lisa en Jean-Pierre is nie vanaand hier nie. Ek sou graag wou gehad het hulle moet weet ons is betalende kliënte. Ek wil nie hê hulle moet verplig voel om ons verniet hier te laat eet nie.”

“Ek stem saam,” sȇ Wouter. “Ek het ’n gevoel dat ons dikwels hier sal eet. Die garnale was die beste en ons seun het sy worsie in die kombersie baie geniet.” Wouter kielie Simon in die ribbetjies en hy lag uitbundig. “Dit is ’n hot dog, Pappa.”

Wouter kyk na Hannah en sê, “ek moet meer soos jy wees. Ek het hopeloos te veel geëet.”

“Ek het nie ’n idee waar jy alles bêre nie.”

“Ja! Ek weet, ek moes nie daardie ekstra knoffel broodjies bestel het nie.”

“Sien jy daardie twee ou omies wat daar sit?” Hannah beduie met haar kop na die tafel ’n entjie van hulle af. Wouter knik sy kop.

“Die een met die deurmekaar hare se naam is Lukas. Hy verjaar een van die dae dan is hy vyf en negentig jaar oud. Lisa sê hy bly nog op sy eie. Die ander een was ’n pastoor vir vyf en dertig jaar by een van die kerke hier. Sy naam is Petrus Olivier. Lisa het my vanoggend aan hulle bekend gestel.”

“Hulle lyk gawe mense. Ons sal hulle seker nog baie hier sien,” sȇ Wouter. “Nouja, dit is sewe uur en tyd vir Simon om te bad en in die bed te kom.” Hy kielie weer vir Simon in die ribbetjies en sê, “sien jy uit om môre vir die eerste keer hier na ’n kleuterskool toe te gaan, seunie?”

“Ja, ek en Teddie het vir juffrou Pamela gesien vandag, ons hou van haar.”

“Dit is goed so, want ek en mamma hou ook van haar. Kom laat ons woonstel toe gaan.”

“Ek hoop daar is ’n koel luggie wat waai sodat ons op die balkon kan sit en na die musiek kan luister,” sȇ Hannah.

Later toe hulle op die balkon sit neem Wouter haar hand in syne en vra, “voel jy al beter oor die situasie by die huis?”

“Nie eintlik nie. Die polisie het nie antwoorde gehad nie. Ek het die gevoel gehad dat hulle dink dit is net Simon se verbeelding. Ek is bly hulle gaan die omgewing patrolleer. Dit is ook nie net asof die indringer met ’n motor ry en voor die deur sal parkeer nie. So, dit is verontrustend om nie te weet waar hy vandaan kom nie.”


ϓϓϓϓϓ

Lisa en Jean-Pierre stap hand aan hand in die straat wat nog warm is van die namiddag son. Die geur van verskeie soorte disse wat uit die eetplekke kom is aangenaam en prikkel mens se eetlus. Hulle het reeds by McDonalds geëet sodat Jean-Pierre sy groot kaasburger waarvoor hy lus was, kon kry. Lisa probeer minder eet want as sy aan Hannah se uurglas middeltjie dink dan besef sy dat sy nie meer so slank is soos sy graag sou wou wees nie.

“Ek het nog nooit so baie toeriste hier gesien nie,” sȇ Jean-Pierre. “Dit lyk asof daar saans ook meer mense hier is. Ek hoop ons kry ook meer besigheid.”

“Ja, die Waterfront kan nogal baie toeriste lok. Dit is jammer dat mense dink dit is nie veilig om saans hier rond te loop nie.”

Hulle stap in stilte terug en toe sy uiteindelik hulle gebou kan sien voel sy trots. Dit is in ’n diep goudkleur geverf met swart afwerkings. Die kennisgewing voor die gebou is ook in dieselfde kleur geverf en hang voor die ingang met die woorde: CAFé LISA. Jean-Pierre en Lisa Fourie Eienaars.

Sy wonder of die opgewondenheid om haar eie plek te besit ooit sal vervaag? Dit was haar droom wat waar geword het. Dit was alreeds tien jaar gelede dat sy net die helfte van die eerste vloer gehuur het van ene Meneer Champion. Sy was toe puntenerig oor die hele restaurant onderneming en het al die geld wat sy bymekaar kon kry gebruik om seker te maak dat die omgewing en die geregte iets sal wees waaroor mense net goed sou kon praat. Sy het die plek gerestoureer en ’n moderne kombuis met die beste toerusting laat aanbring en ’n gekwalifiseerde sjef aangestel. Sy het in haar doel geslaag en haar restaurant was dadelik gewild. Dit was nie sleg vir ’n arm, nikswerd meisie uit Johannesburg nie! Sy glimlag as sy onthou hoe sy gevoel het toe die eerste kliënt by die deur ingestap het.

“Lisa? het jy ooit ’n woord gehoor wat ek gesê het?” Jean-Pierre se stem bring haar terug na die werklikheid.

“Jammer, my lief. My gedagtes het weggedwaal.”

“Waar was jy?”

“O! . . . ek het by die deur van Café Lisa gestaan met die opening. Weet jy dat Lukas amper elke dag daar kom – ten minste een keer – vir die afgelope tien jaar?”

Jean-Pierre glimlag, die plooitjies van ergernis verdwyn van sy voorkop. “Wat op aarde maak dat jy nou daaraan dink?”

“Net om die nuwe naambord te sien het my gedagtes teruggeneem na die verlede. Dit is al!”

“Die nuwe kleure van die gebou laat dit beslis uitstaan.” Jean-Pierre druk haar hand. “Kom laat ons huis toe gaan.”

Huis toe. Wat ’n verskil maak die woord sedert sy met Jean-Pierre getroud is. In die vyf jaar wat hulle getroud is, het hy nooit sy stem verhef of sy hande gelig vir haar nie. Haar lewe was goed. Gaan sy nou gestraf word vir wat sy gedoen het? Is dit waaroor die brief gaan wat sy ontvang het? Is sy verniet bekommerd?

’n Man loop teen haar vas en die stamp laat haar handsak uit haar hand val. Die man buk af en tel dit op. Hy vee die sak af voor hy dit aan haar teruggee. “Ek is jammer. Ek het na die mense geloop en kyk. Ek moes seker gekyk het waar ek loop.”

“Alles reg. Ek is Lisa en dit is my man Jean-Pierre Fourie. Ek dink nie ons het al ontmoet nie.”

“Aangename kennis. Ek is Hendré Riedemann van Windhoek Namibia. Ek is hier vir sake en ek kyk so bietjie rond vir geskenkies vir my kinders voor ek teruggaan.”

Lisa skud sy hand en voel dit is eelterig en klam. Hy dra nie ’n trouring nie en sy wonder of hy dalk ’n enkel ouer is?

“Jean-Pierre en ek is die eienaars van Café Lisa. As jy dalk ’n plek soek om te eet, kan jy gerus daarheen gaan. Ons visdisse is uitstekend – danksy Jean-Pierre. Hy is die hoof sjef.”

Jean-Pierre skud ook hand met die vreemdeling en kyk krities na hom. “Eintlik is ek ’n voormalige onderwyser wat verander het in ’n sjef. Dit lyk asof dit eerder my roeping moet wees.”

“Dit is jammer ek het alreeds geëet,” sȇ Hendré. “Ek sal beslis weer hierheen kom en julle restaurant besoek.”

Lisa haal ’n kaartjie uit haar handsak en gee dit aan hom. “Ons het ’n spesiale aanbieding van twee-vir-een op enige van ons voorgeregte tot die einde van die maand.”

“Volgens die adres is dit nie vêr van waar ons nou is nie,” sȇ Hendré.

“Ja, Café Lisa is daardie gebou aan die einde van die straat wat donker goud en swart geverf is. Die telefoonnommer is op die kaartjie as jy wil bel om ’n bespreking te maak.”

“Dankie, dit was goed om julle te ontmoet.” ’n Glimlag is sigbaar onder sy snorbaard. “Ek sal ’n punt daarvan maak om terug te kom. Totsiens, geniet die aand verder.”

“Ja, dieselfde vir jou.” Jean-Pierre staan stil en kyk hom agterna totdat sy lang, skraal figuur tussen die skare verdwyn.

“Hy lyk nogal gaaf,” sê Lisa.


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-23 show above.)